Amor het op 16 jarige ouderdom die televisieprogram Body beat aangebied en was kort daarna ook aanbieder op Supersport.  Na haar skooldae in Hoërskool Die Fakkel, Johannesburg, waar sy hoofmeisie was, het sy n BA-graad in Kommunikasiekunde en 'n honneurs met spesialisering in advertensiewese aan die destydse Rand Afrikaanse Universiteit met lof behaal.

Dit is egter haar ervaring en vaardigheid as Suid-Afrikaanse kampioen in klopdans en modern dans vir sewe agtereenvolgende jare wat vir dié voormalige Mej. Johannesburg deure oopgemaak het vir rolle in produksies soos West Side Story in die Pretoriase Staatsteater en Sand du Plessis teater in Bloemfontein; en Richard Loring se Girl Talk. Sy het ook as gaskunstenaar opgetree in die oorsese produksie, Strictly Tap Dance Fever in die Joburg Theatre en later Streets of Gold in die Lyric-teater.

In 2012 het Amor haar eie dansproduksie, Amorisque, saam met 'n span dansers in die Odeon Showbar by Emperor’s Palace aangebied.  Dié vertoning het ‘n speelvak van vier maande gehad.

In 1998 het Amor haar debuut album Wild Cherry Kisses uitgereik deur EMI. Dit bevat snitte in Engels en Afrikaans, maar gepas ook “Ti amo”as 'n knopknik in die rigting van haar half-Italiaanse afkoms.

Dié album het sy opgevolg met Dance in Colours (2000), Young Forever (2002) en Amor (2004).

Haar eerste Afrikaanse CD, Voluit, is in 2006 uitgereik deur Select Music.

Binne ses maande het dié album goue status bereik (wat beteken dat meer as 20,000 eksemplare daarvan verkoop is) en is die album ook benoem vir 'n Sama (South African Music Awards) in die kategorie beste Afrikaanse pop-album. In dié kategorie was sy die enigste vrouekunstenaar. Die video van “Voluit lewe”, die eerste snit op Voluit, is in 2007 op die Afrikaanse musiektoekenningsprysaand by Vodaworld in Midrand aangewys as die beste musiekvideo.

In dieselfde jaar is Amor benoem vir People Magazine se Crystal-prys in die kategorie “Hottest SA Artist”. Sy is ook benoem vir 'n Huisgenoot Tempo-toekenning in die kategorie gewildste Suid-Afrikaanse vrouekunstenaar en “Voluit lewe” is eweneens benoem as gewildste lied van die jaar. Sy het ook'n benoeming as beste vrouekunstenaar gekry in die Vonk-musiektoekennings in 2007.

Voluit het Amor in 2009 opgevolg met die album Glo altyd aan more. Daarna volg drie albums met treffers van Amor: This Was Then: Amor Greatest Hits verskyn in 2009 by EMI en Amor Vittone: Grootste treffers (2011) en Amor Vittone: 20 goue treffers (2015) – albei by Select.

Amor se CD, Die tyd is nou, was in 2015 uitgereik deur David Gresham Records. “Sprei my vlerke”, die tweede snit op dié album het vining die no. 1-posisie op Jacaranda FM se Afrikaanse top-20 behaal terwyl “Te laat vir totsiens” later die no. 2 posissie op dieselfe treffersparade behaal het.

In 2018 het Amor haar album Ek bly net 'n ma onafhanklik deur Amor Vittone Productions uitgereik.  Die eerste enkelsnit vanaf dié album, “As die wêreld stil gaan staan”, word reeds as 'n treffer bestempel en maak vinnig opgang op verskeie radiostasies se treffersparades.  Dié liedjie was vir drie weke in die nr. 1-posisie op Bosveld Stereo se Afrikaanse Top 20. Die enkelsnit “Voglio Cantare” was ook vir twee weke in die nr. 1-posisie en “Ek mis jou” het ook dieselfde posisie op dié radiostasie behaal.

In 1999 is Amor aangestel as aanbieder van Road 2 Riches, die Lotto-program op TV.  Sy het oornag toegang gekry tot sitkamers dwarsoor die land en haar openbare optredes het toegeneem.

Sy het'n bekende gesig geword in TV-programme soos Legkaart BonanzaMainly for MenTop Billing,  In die kryt met Joost en Amor en Droomhuis. Op radio het sy ook haar eie program op Jacaranda FM gehad en tydskrifte soos HuisgenootYouSarieInsigVrouekeurDe Kat, Fair Lady en Marie Claire het gereeld Amor op hul voorblaaie gehad.

Benewens haar rol as sanger en vermaakkunstenaar is Amor bedrywig as choreograaf en geleentheidspreker. Haar positiewe gesindheid, sjarme en elegansie maak van haar'n gewilde keuse as inspirerende motiveringspreker, veral vir damesoggende.

Amor is ook 'n bedrewe stemkunstenaar en het al verskeie advertensies opgeneem.

Amor was die aanbieder van Skoonma-se-tong en Skoonpa-se-tong, TV-werklikheidsprogramme oor kos met skoonma’s en skoondogters en skoonpa’s en skoonseuns op Via.  Sy is ook die hoofbeoordelaar van Dans in jou Taal op kykNet en as aktrise vertolk Amor die rol van Zelda in die sepie 7de Laan.