Biografie

Amor Vittone het in 1998 die vermaakbedryf betree met die uitreiking van haar eerste CD, Wild Cherry Kisses. Dié album is uitgereik deur EMI en bevat snitte in Engels en Afrikaans, maar gepas ook “Ti amo”, as ʼn kopknik in die rigting van haar half-Italiaanse afkoms.

Dié album het sy opgevolg met Dance in Colours (2000), Young Forever (2002) en Amor (2004).

Haar eerste Afrikaanse CD, Voluit, is in 2006 uitgereik deur Select Music.

Binne ses maande het dié album goue status bereik (wat beteken dat meer as 20,000 eksemplare daarvan verkoop is) en is die album ook benoem vir ʼn Sama (South African Music Awards) in die kategorie beste Afrikaanse pop-album. In dié kategorie was sy die enigste vrouekunstenaar. Die video van “Voluit lewe”, die eerste snit op Voluit, is in 2007 op die Afrikaanse musiektoekenningsprysaand by Vodaworld in Midrand aangewys as die beste musiekvideo.

In dieselfde jaar is Amor benoem vir People Magazine se Crystal-prys in die kategorie “Hottest SA Artist”. Sy is ook benoem vir ʼn Huisgenoot Tempo-toekenning in die kategorie gewildste Suid-Afrikaanse vrouekunstenaar en “Voluit lewe” is eweneens benoem as gewildste lied van die jaar. Sy het ook ʼn benoeming as beste vrouekunstenaar gekry in die Vonk-musiektoekennings in 2007.

Voluit het Amor in 2009 opgevolg met die album Glo altyd aan more. Daarna volg drie albums met treffers van Amor: This Was Then: Amor Greatest Hits verskyn in 2009 by EMI en Amor Vittone: Grootste treffers (2011) en Amor Vittone: 20 goue treffers (2015) – albei by Select.

Amor se jongste CD, Die tyd in nou, word in 2015 uitgereik deur David Gresham Records. “Sprei my vlerke”, die tweede snit op dié album het vining die no. 1-posisie op Jacaranda FM se Afrikaanse top-20 gehaal. Die snit “Alles net oor jou” is in Junie 2015 ook as enkelsnit uitgereik.

Hoewel Amor se openbare loopbaan in alle erns in 1998 begin het, was sy lank voor dit, dalk onwetend, besig om haar voor te berei vir ʼn lewe op die verhoog en in die kollig.

Ná haar skooldae in Hoërskool Die Fakkel in Forest Hill, Johannesburg, waar sy hoofmeisie was, het sy ʼn BA-graad in Kommunikasiekunde en ʼn honneurs met spesialisering in advertensiewese aan die destydse Rand Afrikaanse Universiteit behaal.

Dit is egter haar ervaring en vaardigheid as Suid-Afrikaanse kampioen in klopdans en moderne dans wat vir dié voormalige Mej. Johannesburg deure oopgemaak het vir rolle in produksies soos West Side Story in die Pretoriase Staatsteater; en Richard Loring se Girl Talk. Sy het ook as gaskunstenaar opgetree in die oorsese produksie, Strictly Tap Dance Fever in die Joburg Theatre en later Streets of Gold in die Lyric-teater.

In 2012 het Amor haar eie dansproduksie, Amorisque, saam met ʼn span dansers in die Odeon Showbar by Emperor’s Palace in Kempton Park aangebied. Dié vertoning het ʼn speelvak van vier maande gehad.

Die suskes van haar eerste albums en haar belowende musiekloopbaan het bygedra tot haar aanstelling as aanbieder van Road 2 Riches, die Lotto-program op TV. Sy het oornag toegang gekry tot sitkamers dwarsoor die land en het haar openbare optredes toegeneem.

Sy het ʼn bekende gesig geword in TV-programme soos Legkaart Bonanza, Mainly for Men, Top Billing en In die kryt met Joost en Amor. Op radio het sy ook haar eie program op Jacaranda FM gehad en tydskrifte soos Huisgenoot, You, Sarie, Insig, Vrouekeur, De Kat, Fair Lady en Marie Claire het gereeld Amor op hul voorblaaie gehad.

Benewens haar rol as sanger en vermaakkunstenaar is Amor bedrywig as choreograaf en geleentheidspreker. Haar positiewe gesindheid, sjarme en elegansie maak van haar ʼn gewilde keuse as inspirerende motiveringspreker.

Amor is ook ‘n bedrewe stemkunstenaar en het al verskeie advertensies opgeneem.

Amor is deesdae die aanbieder van Skoonma-se-tong, ʼn TV-werklikheidsprogram oor kos met skoonma’s en skoondogters op Via.

Foto's

Nuutste musiekvideo: Te laat vir totsiens

Album nou beskikbaar

Die tyd is nou
itunes

Dagboek

< 2016 >
Augustus
Son
Maan
Dins
Woens
Do
Vry
Sat
Julie
1
2
3
4
5
6
7
8
9
10
11
12
13
14
15
16
17
18
19
20
21
22
23
24
25
26
27
28
29
30
31
September
September
September